Dr Stadler Kirsten Logo

Skouer Probleme

Kraakbeen probleme

Beskadigde Kraakbeen

Oorsig:

Die einde van bene wat die glenohumerale gewrig uitmaak is die glenoïed en die humerus kop. Die akromioklavikulêre gewrig word gevorm deur die klavikel en akromion proses en die elmbooggewrig deur die distale humerus, radiuskop en ulna se proksimale einde.

Gewrigsoppervlaktes word bedek met 'n ferm, gladde gewrigskraakbeen. Gesonde kraakbeen absorbeer skok en beskerm die onderliggende been en laat hulle toe om gladde beweging uit te voer met minimale wrywing. Skade aan kraakbeen kan aangerig word deur verskillende vorms van artritis maar ook as gevolg van trauma wat oor die gewrig plaasgevind het.

Oorsake:

Osteoartritis en rumatoïede artritis is van die toestande wat kraakbeen beskadig. Verder word kraakbeen beskadig as 'n direkte gevolg van trauma. Trauma kan ook 'n osteokondrale fraktuur veroorsaak wat 'n fraktuur is wat die onderliggende been betrek.

Hierdie vorme van trauma vind plaas gedurende kontaksport, ongelukke met verskeie voertuie of val van hoogtes. Die skokabsorberende vermoë van die kraakbeen word oorskrei en 'n skeur-tipe letsel van die kraakbeen vind plaas. Hierdie skade is gewoonlik tot 'n spesifieke area beperk terwyl artritiese tipe letsels meer wydverspreide skade veroorsaak.

Simptome:

Dit sluit in dowwe, aanhoudende pyn. Dit kan later akute pyn, gewrigstyfheid, swelling en beperkte omvang van beweging behels.

Klassifikasie:

Klassifikasies van kraakbeenskade word gebaseer op die graad van aantasting, die voorkoms van die kraakbeen sowel as die verspreiding van die aantasting van die kraakbeen.

Behandeling:

Behandeling vir nie-artritiese kraakbeenskade hang af van die area van besering, die grootte daarvan en die graad van besering. Pynverligting, rus en anti-inflammatoriese medikasie word gewoonlik gebruik. Chirurgiese gelykwerk van growwe letsels met loslaat van die gewrigskapsel word soms uitgevoer om simptome te beheer.

In gevorderde gevalle word die gewrigsoppervlakte verwyder met of sonder die vervanging daarvan deur ‘n prostese.

Klik hier vir die drukbare dokument Beskadigde kraakbeen.

 

Los liggaam

Oorsig:

Die gewrigsvormende gedeeltes van die humerus en die glenoïed by die skouergewrig of van die humerus en die radius en ulna by die elmbooggewrig word bedek deur 'n ferm, gladde weefsel struktuur wat gewrigskraakbeen genoem word. Gewrigskraakbeen absorbeer skok, laat toe vir gladde beweging en beskerm die onderliggende been terwyl die gewrigsdele oor mekaar gly. Wanneer gewrigskraakbeen beskadig word as gevolg van osteoartritis of ander toestande, kan klein stukkies kraakbeen begin losbreek en vry ronddryf in die gewrigsvog. Klein stukkies been kan saam met kraakbeen ook loskom in sulke omstandighede of wanneer daar besering van 'n gewrig plaasgevind het. Hierdie klein fragmente van kraakbeen of been wat nie normaalweg daar behoort voor te kom nie, staan bekend as los liggame.

Oorsake:

Besering of geleidelike erosie van die kraakbeen tydens artritis toestande veroorsaak die afbreek van klein stukkies kraakbeen wat ronddryf in die gewrig. In areas van beseerde kraakbeen of waar been op been kontak plaasvind kan die selle wat gewoonlik verantwoordelik is vir ontstekingsreaksie in die been, nuwe been neerlegging veroorsaak en benige uitgroeisels uiteindelik vorm wat osteofiete genoem word. Hierdie osteofiete kan ook losbreek en los liggame vorm. Been en kraakbeen fragmente kan losbreek van areas waar daar swak bloedvoorsiening is (osteochondritis dissecans) en bindweefsel strukture wat ontstaan deur bloeding in 'n gewrig of die afsterf van sagte weefsel in 'n gewrig, kan ook los liggame vorm.

Simptome:

Meeste los liggame veroorsaak nie simptome nie. Van hulle kan egter akute skerp pyn veroorsaak met episodes van sluiting van die gewrig, vashaak van die gewrig of 'n gevoel van onstabiliteit. Swelling van die gewrig kan ook plaasvind as los liggame die sagte weefsel irriteer. Skuur- of skaaf-gevoel, bekend as krepitis, mag ook gevoel of gehoor word gedurende beweging.

Klassifikasie:

Los liggame word geklassifiseer volgens hulle samestelling en of hulle los of gedeeltelik aangeheg voorkom. Kraakbenige los liggame is fragmente van los kraakbeen. Fibreuse los liggame ontstaan vanaf bindweefsel vorming. Osteokondrale los liggame is fragmente van been en kraakbeen wat aanmekaar vas is en saam afgebreek het van hulle oorspronklike ligging. Stabiele los liggame is gewoonlik aan die gewrigsvlies vasgeheg terwyl onstabiele los liggame vry ronddryf en pyn en sluiting van die gewrig kan veroorsaak.

Behandeling:

Los liggame wat simtpome veroorsaak moet gewoonlik verwyder word. Kleiner liggaampies kan met artroskopiese tegnieke deur gryp instrumente of suiging verwyder word terwyl groter liggame met oop chirurgie verwyder moet word. Los liggame kan ook met wegboor en opbreek in kleiner stukkies behandel word waar die liggaam dan die res verder op 'n natuurlike wyse elimineer. In sommige gevalle, as die gedeeltes groot is, kan dit weer vasgesit word in hul oorspronklike posisie met skroewe of pennetjies.

Klik hier vir die drukbare dokument Los liggaam.

 

Los liggaam verwydering

Inleiding

'n Los liggaam is 'n stukkie weefsel wat vanaf die oorspronklike weefsel in die gewrig losgeskeur het en ronddryf in die gewrig. Dit veroorsaak pyn, sluiting en swelling van die gewrig.

Insnydings

Klein insnydings word rondom die gewrig gemaak waardeur die artroskoop en chirurgiese instrumente geplaas word.

Besigtiging

'n Elektroliet oplossing vloei deur 'n buis in die skouer in om die kapsel van die skouer te laat uitsit sodat besigtiging van die gewrig verbeter word. Die beeld word gestuur na 'n video monitor sodat die chirurg kan sien wat in die gewrig aangaan.

Verwydering

Spesiale chirurgiese instrumente word gebruik om die los liggame uit die gewrig te verwyder.

Na die prosedure

Sodra al die los liggame verwyder is word die instrumente verwyder en die arm word vir 'n paar dae in 'n stutverband gerus en 'n rehabilitasieprogram word begin.

Klik hier vir die drukbare dokument Los liggaam verwydering.

Meer info: http://www.orthoinfo.org/topic.cfm?topic=A00589

 

Osteoartritis

Oorsig:

Beeneindes wat gewrigte vorm word bedek deur ferm, gladde gewrigskraakbeen. In die skouergewrig behels dit die humerus kop en glenoïed proses. By die akromioklavikulêre gewrig behels dit die laterale einde van die klavikel en die akromion proses en by die elmboog behels dit die distale humerus, die ulna sowel as die radius se proksimale einde. Die gewrigskraak-been elimineer wrywing feitlik geheel en al, beskerm die onderliggende been teen beskadiging en laat toe dat 'n gladde glybeweging tussen die beeneindes plaasvind. Verwering van die gewrigskraakbeen lei tot 'n toestand genaamd osteoartritis wat ook degeneratiewe artritis genoem word. Dit die mees algemene vorm van artritis in die skouer en elmboog.

Oorsake:

Hierdie proses vind gewoonlik oor tyd plaas. Dit mag veroorsaak word deur verwering oor baie jare, herhalende stremming van die gewrig, vorige besering, wanbelyning, oorgewig of metaboliese of genetiese toestande. Osteoartritis in die skouer en elmboog is meer algemeen in pasiënte oor 50 jaar oud maar dit kan ook in jonger pasiënte voorkom na beserings soos byvoorbeeld ontwrigtings van die gewrig of in mense met 'n genetiese geneigdheid tot osteo-artritis wat gewoonlik in families loop.

Simptome:

Dit behels dowwe pyn, akute pyn episodes, styfheid en swelling van die gewrig en beperkte omvang van beweging. Benige uitgroeisels of osteofiete ontwikkel geleidelik tesame met die verergering van erosies van die gewrigskraakbeen en mag plaaslike simptome in die sagte weefsel veroorsaak sowel as 'n gevoel van vashaak van die gewrig. Pyn is tipies gesentreer oor die agterste aspek van die skouer en elmboog wanneer dit in hierdie twee gewrigte voorkom, maar wanneer dit in die akromioklavikulêre gewrig voorkom is dit aan die voorkant van die skouer geleë. Osteoartritis kan ook gelyktydig in die akromioklavikulêre gewrig en die glenohumerale gewrig voorkom.

Klassifikasie:

Primêre osteoartritis ontstaan wanneer daar geen identifiseerbare oorsaak is nie en wanneer dit aanvaar word as genetiese of metaboliese faktore wat daartoe aanleiding gee. Wanneer daar 'n onderliggende oorsaak egter is, word dit sekondêre osteoartritis genoem. Spesifieke letsels van die kraakbeen kan ook die klassifikasie beïnvloed na aanleiding van die voorkoms en die graad van kraakbeenverlies.

Behandeling:

Terapie is gemik op verligting van pyn en verbetering van funksie. Pynverligtende en anti-inflammatoriese medikasie word gebruik tesame met aanpassing van aktiwiteite. Chirurgiese gelykwerk van growwe letsels word uitgevoer indien die simptome voortduur of vererger. Erge akromioklavikulêre gewrigsartritis mag volledige verwydering van die akromioklavikulêre gewrig en die aangetasde deel van die klavikel behels wat vervang word met litteken weefsel. Vir erge osteoartritis van die glenohumerale gewrig word vervanging van die humerus kop met of sonder die glenoïed uitgevoer. Gewrigsvervanging van die elmboog word minder gereeld uitgevoer maar in erge gevalle kan hierdie skarniergewrig ook met prosteses vervang word.

Klik hier vir die drukbare dokument Osteoartritis.

Meer info: http://www.orthoinfo.org/topic.cfm?topic=A00222

 

Totale skouervervanging

Inleiding

Totale skouervervanging word uitgevoer wanneer artritis of degeneratiewe gewrigsiekte die skouer styf en pynlik maak. Tydens hierdie prosedure word die aangetasde oppervlaktes van die humeruskop (bal) en glenoïed (potjie) vervang. Die bal word met metaal en die potjie met spesiaal versterkte plastiek vervang.

Kraakbeen verwering

In gevalle waar 'n vervanging benodig word is die kraakbeen reeds af verweer vanaf die onderliggende been en beenuitgroeisels ontwikkel op die rante van die gewrig met ongelykhede van die gewrigsoppervlaktes. Dit veroorsaak pyn en perk beweging in.

Insnyding

'n Insnyding word vooroor of oor die kant van die skouer gedoen. Die spiere en tendons word losgelaat om die humeruskop en glenoïed bloot te lê.

Verwydering van die humeruskop

Die skouer word gemanipuleer om toegang tot die gewrig te kry. Die kop van die humerus word verwyder en die holte in die humerusbeen word voorberei. Die glenoïed word ook skoongemaak.

Pas van die stam en bal van die humerus

Die hol kanaal in die humerus word voorberei om die stam waaraan die kop geheg is te ontvang. Hierdie stam en kop word vasgesit in die humerusholte met of sonder sement, afhangende van die omstandighede sowel as die chirurg se voorkeur.

Pas van die potjie

Die glenoïed prostese word vasgesit in die potjie met spesiale tegnieke, gewoonlik met sement om die oppervlakte te skep wat die kop gedeelte van die humerus kan ontvang.

Herposisionering van die skouergewrig

Die skouergewrig word dan weer herposisioneer met die bal wat in die potjie rus en die omliggende weefsel word teruggeplaas in hulle normale posisie.

Einde van die prosedure

Die arm word beskerm na die tyd in 'n stutverband en geleidelike beweging word toegelaat. Goeie pynverligting word gewoonlik verwag na hierdie prosedure sodat die pasiënt in baie gevalle terugkeer na normale alledaagse aktiwiteite en ligte fisiese aktiwiteite.

Klik hier vir die drukbare dokument Totale skouervervanging.

Meer info: http://www.orthoinfo.org/topic.cfm?topic=A00094