Skouer Anatomie
Die skouergewrig, genoem die glenohumerale gewrig, is 'n bal-en-potjiegewrig wat die vermoë het om 'n wyer omvang van beweging toe te laat as enige ander gewrig in die liggaam. Die geronde balvormige humerus kop pas in die potjievormige glenoïed fossa van die skapula. Die glenoïed bevat slegs 'n klein gedeelte van die humerus kop en die fibrokraakbenige labrum verdiep die potjie en help om die humerus kop in plek te hou.
Die gewrigskapsel wat die gewrig omsluit word uitgevoer met sinoviale membraan. Hierdie sinoviale membraan skei sinoviale vloeistof af wat help om die gewrig te smeer, skok te absorbeer en die gewrigskraakbeen te voed.
Die rotatorkraag is 'n groep van 4 spiere met hulle senings, supraspinatus, infraspinatus, subskapularus en teres minor. Hierdie spiere en senings heg die bo-arm been (humerus) aan die bladbeen (skapula) en laat die skouer toe om te beweeg. Hulle stabiliseer die skouer deur die balvormige humerus kop in die potjievormige glenoïed fossa te stabiliseer en hou die gewrig aanmekaar deur 'n wye reeks van bewegings wat andersins die humerus kop sou laat ontwrig het.
Die skapula waarvan die glenoïed 'n deel vorm, word verbind aan die torakswand deur 'n verskeidenheid van spiergroepe. Hierdie spiere laat 'n wye reeks van beweging van die skapula toe in verhouding tot die borskaswand en stabiliseer die skapula op die borskaswand. Dit het ook 'n skokabsorberende funksie en is verantwoordelik vir posisionering van die glenoïed ten opsigte van die humerus gedurende bewegings of verandering van statiese posisies van die arm.
Akromioklavikulêre gewrig verbind die skapula met die klavikel. Dit is 'n klein, gly-tipe gewrig wat gefikseer is aan die skapula deur 2 groepe ligamente.
Die klavikel is op sy beurt weer verbind aan die sternum deur die sternoklavikulêre gewrig met sy stabiliserende ligamente. Die klavikel is daarom die enigste benige verbinding tussen die arm en die romp.